Arnie, soos almal hom genoem het, is gebore op 20 Augustus 1942 te Pretoria. Hy was die middelkind van 3 seuns, Clive die oudste en Deon die jongste.
Sy vader, Boet Claassen, was in die Polisie en sy moeder Ethel was huisvrou terwyl die kinders skoolgaande was.
Later jare was sy werksaam in die Poswese in Pretoria. Hulle was woonagtig in Proklemasie Heuwel PTA Wes. Hy was in Laerskool Proklemasie Heuwel en toe later in Pretoria Wes Hoërskool, dit is in hierdie hoërskool jare dat hy sy toekomstige vrou Elma Meier ontmoet het, en later
in 1962 met haar in die huwelik getree het. Uit hierdie huwelik is 2 seuns gebore, Vincent en Rodney. ‘n Groot gebeurtenis was toe hy saam met sy seun Vincent in 1962 deur Pastoor Albers Snr. in die Pretoria gemeente gedoop
is en sy Here leer ken het.
2001 was ‘n baie hartseer tyd in hierdie familie se lewe toe Elma na 3 jaar se kankerleiding oorlede is. In 2003 het Arnold ‘n breinaneurisme oorleef, waarna hy lank in die hospital was. Tydens sy herstel was hy aanhuis van sy seun Rodney. 2006 tref nog ‘n groot skok die familie toe Rodney oorlede is in ‘n motorfietsongeluk. Rodney het twee seuns agter gelaat, Arne en Driaan. Uit Vincent se huwelike is daar 3 dogters, Monique, Colette, Carla en ‘n seun Ruan gebore. In 2004 het Arnold met Agnes Zunkel in die huwelik getree. Hulle was 8 jaar getroud.
Arnold het St 8. die skool verlaat en het by die Lugmag sy loopbaan begin, waar hy sy vakmanskap voltooi het. Na ‘n paar jaar het hy by die Pretoria se munisipaliteit en wel by die kragstasie in Pretoria gaan werk as ambagsman. Later werk hy by die Uraanverykings Korporasie “Valindaba”, waar hy in die aande tot laat in ‘n motorhuis sy N4 verwerf. Hy het hom toe so bekwaam dat hy by die Ingenieursorde aanvaar is. Hy het toe by Ukor die goue handskud gekry, en by “Warman Africa”, ‘n Australiaanse mynmaatskappy wat dompelpompe vir die myne vervaardig begin werk.
Na sy aneurisme in 2004 het hy afgetree. In 2018 het hy hom in die Aftree-Oord in Paulpietersburg gevestig, waar hy BAIE gelukkig was, tot aan sy tragiese einde weens ‘n vinnige, Covid-19 verwante siekte. Hy sterf op 28 Januarie 2021, op sy jongste seun Rodney se verjaarsdag.
Vincent en familie is dankbaar dat hy sy laaste dae hier kon deurbring, in besonder ‘n dankie aan Erich Niebuhr en familie, die Paulpietetersburg gemeenskap en die Lüneburg Gemeente wat hom soos ‘n pa en seun behandel en ingeneem het.