Sonja Christa Clowes

Sonja Christa Clowes (gebore Klingenberg) is op 18 Augustus 1952 as vyfde kind van Heini en Emma Klingenberg gebore. Op 24 Augustus 1952 is Sonja gedoop en aangeneem op 2 Oktober 1966, beide het plaasgevind in Lüneburg.

Haar eerste skooljare was ook op Lüneburg en Hoërskool te Piet Retief. Op Universiteit het sy onderwys gestudeer en met haar eerste proef jare het sy haar man Alan Clowes ontmoet. Op 24 April 1976 het hul ewig trou aan mekaar belowe, ook op Lüneburg. Die Here het haar in latere jare na baie swaarkry met twee kinders geseën. Maurice en Imke. Maurice is laasjaar ook deur God kom haal maar het vir haar 3 pragtige kleindogters nagelaat.

Op haar ouerhuis, plaas Goedgevonden het Sonja die wonder en haar liefde vir die natuur ontdek, haar oog het nooit „n veldblommetjie gemis of hoe uniek God dit geskape het nie. Verseker het sy groen vingers gehad sowel as „n fyn aanvoeling en liefde vir enige dier. Nooit het sy nee gesê vir „n koppie tee nie.

Sonja se groot liefde was kinders, sy het vir meer as 20 jaar haar eie speelgroepie bestuur en 6 maande na haar aftrede het sy weer in „n laerskool begin skoolhou. As sy tussen die kinders was het haar oë geskitter. Elke kind was vir haar uniek en almal is aanvaar vir wie hul is.

Sonja kon lag, meegevoel hê en die beste in elke mens raaksien en dan tot almal se voordeel gebruik. Selfsug was nie iets in haar woordeboek nie. Wanneer haar las te swaar geraak het, het sy vertroosting by haar Heiland gaan soek en gevind.
Haar kinders was vir haar alles, al was geld min het hul nooit gegaan sonder iets wat benodig was nie. Sy het hulle met tonne liefde en omgee bederf. Saam met hulle het sy hul drome nagejaag en help bewaarheid. Vir my het sy geleer wat geduld en liefde beteken en om daardie spesiale iets in mense te vind. Sy het seker gemaak sy sit my twee keer deur universiteit. Sy was „n ma vir vele meer as net haar eie kinders.
Sy word beskryf deur die leerders as liewe vriendin, juffrou Sonja, trots in haar anker, hart vol liefde, wonderlik, diep spore in my hart gemaak, oorvloei van Jesus liefde, sonstraal, ouma, tweede ouma, mamma, tweede mamma, invloedryk, tante Zonja, finominaal, dankbaar, geleende engel, altyd glimlag, voorbeeld, sag van hart en so vele meer. Vir my was sy mamma, beste vriendin, en vertrooster.

Sy is in Februarie 2016 gediagnoseer met graad IV kolon kanker en alhoewel ons geweet het dis sleg het sy al die dokters verbaas met haar veggees en wil om te lewe. Dit was „n tawwe stryd maar moed het sy nie opgegee nie, geveg het sy geveg. Sy was die beeld van krag van bo en positiwiteit. Al het dit hoe sleg gegaan sou sy nogsteeds gesê het „darem kan ek nog sien“ of „darem kan ek nog saam met jou gaan stap“. Die mooi van die lewe het sy bly raaksien en altyd bly glo soos „n kind.
Vanaf Desember 2017 het haar ligaam begin ingee, maar nie haar gees nie. Daar was baie worstelinge met God dat sy net nog „n bietjie wil bly en nog nie reg is vir die dood nie, maar Jesus het daagliks met haar gewerk en haar voorberei om huis toe te gaan.
Graag wil ek Mamma se laaste oomblikke deel.

Die laaste paar ure was sy klaar in „n koma, elke nou en dan in daardie laaste paar ure het daar „n glimlag oor haar gesiggie gestrek.
Daar was „n hemelse helder volmaan buite en dit was windstil. Sagte musiek het in die agtergrond gespeel en van die woorde wat my bybly is:

“Oh, you‟re not far away,
You‟re coming close,
And oh, even as I wait,
You‟re coming close,
You are God with us
You are here with us”

In die laaste halfuur het Ian weer vir haar uit Openbaring voorgelees, haar asemhaling was baie vinnig maar soos hy lees het sy begin ontspan. Daar het ewe skielik „n sagte wind van buite af in die kamer ingewaai en om presies 3h00 die oggend het sy haar laaste asem uitgeblaas met haar gesin om haar. Daar was weer „n glimlag en vrede in haar gesig.

Nog woorde van Openbaring wat so vertroosting bring is die volgende: “Toe het ek „n nuwe hemel en „n nuwe aarde gesien…… Hy sal die trane van hul oë afdroog en die dood sal daar nie meer wees nie, ook leed, smart en pyn sal nie meer daar wees nie……………Ek maak alles nuut…………Amen! Kom Here Jesus…………….Die genade van die Here Jesus sal by almal wees.

Sonja het ons aardse wêreld „n beter plek gemaak.

Comments are closed.